Thaise Roerbraaigroente

GROENTE IS TOPS

Annatjie Goosen het gevra dat ek ‘n paar groente-resepte vir julle moet gee. Vir my was dit nou kompleet soos ‘n kat wat room gekry het, want nes met slaai, is ek gek oor groente, enige groente, net okra eet ek nie. Doodgekookte kool of vaal groenbone en soet pampoen hoef lank nie meer deel te wees van ons daaglikse spyse nie. Deesdae is dit so al asof groente sowaar die kitaar begin slaan op ons bord met vleis wat so ietwat na die kant gerangeer is. Nie dat ons as Suid-Afrikaners ooit ons vleistande sal trek nie, maar dat die porsies beslis kleiner geword het, is so.

Die lekkerte van groente is dat dit so ‘n gewillige kossoort is, want dit vind aanklank by bykans enige van die geurprofiele waarvan ek julle ‘n rukkie terug vertel het. Weer is dit die Oosterse geurprofiel met onder andere soja- en vissous, knoffel, gemmer, lemmetjiesap en koljanderblare wat so lekker werk saam met groente. Veral daardie groente soos kool en broccoli wat mense al te graag opsy skuif.

In my Langebaan-kombuis hang my potte en panne aan hake bo my Smeg-gasstoof. Daar waar ek hulle maklik kan nadertrek wanneer ek begin speel in die kombuis. Buiten vir ‘n paar lekker groot LeCreuset-potte, is ‘n wok ‘n moet vir my in die kombuis. Myne is nou al so lekker “ingebak”, dit het nie veel meer as net ‘n vinnige was nodig nie. Daarna gee ek dit ‘n veeg met bietjie olie en dis reg vir volgende keer se magic maak.

Die werkbanke in my kombuis (ou skoolhoutwerkbanke wat my man omskep het) staan op wiele, net reg vir rondskuif vir waar ek hulle benodig. Bo-op, al my toorgoed, spane en lepels, gerieflik in emalje-emmers gerangskik. Een ding wat jy altyd in daardie emmers gaan vind is Chinese eetstokkies – want dis waarmee ek roer, veral as ek groente gaarmaak. Daarmee kan jy liggies met die groente omgaan, roer en lig en draai, sonder om te kommer dat die groente stukkend of in ‘n moes gaan opeindig.

THAISE ROERBRAAIGROENTE

Sojasous is ook een van my gunstelinge. Kikkoman sou die aangewese soort wees, maar oe, dis maar aan die duur kant. Gelukkig het ek Japanese soesji-sojasous ontdek op Checkers se rakke en dit werk goed. Nie net is dit heerlik oor ‘n klewerige bakkie jasmynrys saam met bietjie sesamsaad nie, saam met bietjie lemmetjiesap, koljanderblare en brandrissie gee dit heerlik geur aan groente. Vir hierdie roerbraaigroente gebruik ek graag groente wat dieselfde tyd neem om gaar te word – blomkool en/of kopkool, broccoli, soetrissie, murgpampoentjies en sampioene werk goed saam. Ek hou ook van bietjie mielies daarby.

SOUS
1 rooi brandrissie, pitjies verwyder en gekap
30 ml (2 e) canola-olie
5–10 ml (1–2 t) oester- of vissous
15 ml (1 e) strooisuiker
15 ml (1 e) lemmetjie- of suurlemoensap
20 ml (4 t) sojasous
30 ml (2 e) hoisinsous (opsioneel)

GROENTE
Olie
1 ui, in dun skyfies gesny
4 knoffelhuisies, fyngedruk
1 cm stuk vars gemmer, fyngerasper
2 rooi soetrissies, in repies of blokkies gesny
4 murgpampoentjies, in ringeties gesny
100 g blomkool, in blommetjies gebreek
100 g broccoli, in blommetjies gebreek
100 g baba-miellies

VOORSIT
250 gaar rys- of eiernoedels

Sesamsade en koljanderblare om bo-oor te sprinkel
1 SOUS Meng al die bestanddele vir die sous saam. Hou eenkant.
2 GROENTE Verhit die olie en roerbraai die ui en knoffel tot sag, voeg die soetrissies en murgpampoentjies by en roerbraai tot effe sag, maar nog lekker bros (dis hier waar die Chinese stokkies nou goed te pas kom).
3 Voeg die res van die groente by, bedek, verlaag die hitte en stoombraai tot die groente net sag maar nog baie bros is, letterlik sowat 1—2 minute (nie te lank nie, want dan word die groente pap en verloor hul kleur). Onthou die groente moet nog lekker krakerig wees.
4 Giet die sous oor, meng deur en verhit tot net warm.
5 VOORSIT Skep die noedels in ‘n bak of dienbord en skep die groente bo-op. Sprinkel sesamsade oor en rond af met ‘n goeie handvol gekapte koljanderblare.

Wenk: Voeg ‘n klein blikkie klappermelk by die sous indien verkies. Pleks van die noedels kan jy dit ook met jasmynrys voorsit.

Oosterse geurbaanprofiel

PROTEÏEN
Rooivleis en vark: veral ribbetjie, lies en filet
Vis en seekos: salm, tuna, krap, calamari, inkvis, steurgarnale
Pluimee: hoender, eend
Hoendereiers
Toefoe

STYSEL
Rys: Jasmyn, soesji, basmati
Noedels: rys, eier, mungboontjie, ramen, oedon
Ander: wontondeeg, ryspapier

GROENTE EN VRUGTE
Groente: kersie-tamaties, Thaise eiervrug, groenbone, soetrissies, sprietuie, stingeluie, rooi uie, radyse, babaspinasie, kool, Chinese blaarkool, bok choi of pak choi, suikerertjiepeule, ertjies, babamielies, sampioene, boontjiepruite, uiespruie
Vrugte: piesangs en piesangblare, groen papajas, groen mango, lemmetjies, pynappel, grenadilla, pomelo, avokado, sharonvrugte

KOSKAS
Vissous, oestersous, sojasous, hoisinsous, swartboonsous, terijaki, miso (pasta van gefermenteerde soja), rysasyn, ryswyne (mirin en sake), palmsuiker, klappermelk, klapperroom, sesamolie, soet brandrissiesous, sriracha-brandrissiesous, sesamsade (swart en wit), kasjoeneute, grondbone, piekelgemmer,, wasabi, norivelle, panko-broodkrummels, matcha-tee, rysmeel, Thaise geel-, groen, en rooikerriepasta, garnaalpasta

KRUIE koljanderblare, Thaise basilieblare, knoffel, grasuie, sitroengras, vars gemmerwortel, brandrissie

SPESERYE anys, gemmer, swartpeper, borrie, kardemom, komyn, koljander, tamaryn, steranys