Die saligverklaring van JP II

“Die saligverklaring is die voorlaaste stap in die Katolieke proses om iemand tot heilige te verklaar”, volgens die Beeld van 2 Mei 2011. Sien die volledige storie hier.

Hier is ‘n deeglike kritiek van die hele aangeleentheid:

John Paul II – Blessed in the sight of God ?

Hierna volg my eie opmerkings:

In die Christelike geloof is dit nie net sekere persone wat as ‘heilige’ bo ander verklaar word nie, maar word elkeen (ongeag watter ‘amp’ of ‘gawe’) wat waarlik in Jesus Christus glo, kragtens die genadige uitverkiesing, as ‘n ‘heilige’ beskou:

Romans 1:7  “aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!” (sien ook: 1 Kor.1:2; Ef.1:1; Filp.1:1, ens.)

En, gelowiges is heilig nie op grond van hul goeie werke nie, maar alleen uit genade deur die geloof in Christus (Ef.2:8-10), op grond van Christus se verdienste.  Die gelowige se goeie werke wat beloon word (HK v/a 63), maak hom nie ‘n ‘heilige’ nie, dit is ‘n getuienis/vrug van sy redding kragtens die uitverkiesing:

Ef.1:3-6 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, 5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, 6 tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.”

Ons word gered om heilig te wees, ‘sodat’ ons heilig sal wees en al hoe meer heilig word, soos die ‘eerste pous’ ons leer (1 Pe.1:15,16), contra al die ‘pouse’ wat hom opgevolg het.  Ons word gered om goeie werke te doen, nie omdat ons heilig is en omdat ons goeie werke doen nie, contra die hele Roomse valse lering van saligheid en verdienste, soos blyk uit John Paul II wat nou eers as ‘heilige’ verklaar word, omdat hy glo goeie werke (persoonlike heiligheid, wondergenesings, voorspraak, ens.) gedoen het: redding uit verdienste, heilig word deur werke, en nie genade alleen nie, maar saligheid in ‘samewerking’ met ‘God se genade’.

Daarteenoor leer die Skrif soos bely in NGB art.24:

“Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ‘n boom goed kan wees voordat die boom self goed is. Ons doen dus die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie – wat sou ons tog kon verdien?”

Ons word in Christus regverdig en heilig ‘verklaar’, kragtens God se werk in Christus alleen, en nie enige werke en verdienste van ons kant nie:

1 Kor.1:30-31 30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. 31 Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

Verder blyk dit uit die Skrif dat geen ander mens of naam (Hand.4:12) as ‘die Heilige’ of die ‘Holy One’ beskou of verklaar word nie, behalwe alleen die eniggebore Seun van God, Jesus Christus:

Hand.3:13-15 13 Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik, Hom wat julle oorgelewer en voor Pilatus verloën het toe hy besluit het om Hom los te laat. 14 En julle het die Heilige en Regverdige verloën en gevra dat ‘n moordenaar aan julle geskenk sou word, 15 en die Leidsman tot die lewe het julle gedood. God het Hom uit die dode opgewek, waarvan ons getuies is. (sien ook Luk.4:34; Hand.2:27)

In die prent hierbo van JP II word ook die 2de gebod oortree, deur die afbeelding van Christus wat (nog steeds) aan die kruis hang. Laagenoemde bevestig ook die dwaling van Rome soos gesien in hul viering van die Roomse mis, waar “Christus nog daagliks … deur die priesters geoffer word” vir ‘lewendes en die gestorwenes’ (HK v/a 80) , terwyl die Skrif leer:

Hebr.9:11-12 11 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, 12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. …  24 Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn; 25 ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie, 26 want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen. 27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, 28 so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.

En, daarom beskryf die HK in antwoord die Roomse Mis as volg:

“Die mis is dus in wese niks anders nie as ‘n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus en ‘n afgodery wat vervloek is.”

Dit is egter duidelik dat Robert Mugabe nie die Skrifte of die kategismus ken nie, en dat Rome ook ‘n voorstaander is van ‘n ‘oop Mistafel’, want by die saligverklaringsseremonie het hy deelgeneem aan die Roomse Mis (die foto is in die Beeld maar ek kon nie die foto aanlyn opspoor nie).

Die Beeld berig ook: “In die katolieke tradisie vorm relieke of oorblyfsels van ’n gestorwene ’n belangrike tasbare herinnering aan die voorbeeldige Christelike lewe van so ’n geloofsheld.”

Twee van JP II se ‘oorblyfsels’, is ‘n ‘buisie (van sy) bloed’ en die ‘bloedbevlekte onderhemp’ toe hy in 1981 ‘n sluipmoord aanval oorleef het (ek moet bieg: dit was nie ekke nie!).

En wat sien ons in die Skrif en in die kerkgeskiedenis oor relieke en oorblyfsels ?

Lees gerus die hoofstuk oor ware geloofshelde in Hebreërs 11, en daar sien ons dat hul roem was in God alleen, deur die geloof alleen, en nêrens sien ons dat ‘n stuk van Noag se ark, die staf van Abraham, Aaron of Moses se staf, Josef se ring, Simson se ‘base ball bat’, Ragab se tou, Dawid se slingervel, of wat ookal vereer is en as ‘reliek’ verklaar is nie.

Ja, as ons deur argeologie op vondse afkom van die verlede, dan vind ons besondere historiese en opvoedkundige waarde daarin, maar dit word nie op ‘n mistiese religieuse wyse aanbid en verheerlik nie, soos wat baiemaal gebeur in die afgodery van Rome nie.  Rome het duidelik nie die les geleer van die vernietiging van die verbondsark en die koperslang (2 Kon.18:4) nie.

Wat moet gelowiges doen wat nog in Rome is, en vasgevang is deur sy verleidinge en dwalinge, en, kan ons byvoeg, en waarteen moet Protestante gewaarsku word wat al meer ‘neutrale grond’ soek met Rome, ongeag dat Rome nie ‘n sentimeter skuif in hul basiese leringe en afvallige erediens nie ?

Die Heilige Skrif, Jesus Christus roep:

“Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.” – 1 Kor.10:14

“Gaan uit haar uit my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.” – Op.18:4

3 thoughts on “Die saligverklaring van JP II

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑