Baie glo die leuens

Hulle sal die leuen glo

prof. Gerrit Smit

Lees: Ex. 4:1-17

Waarom stel God deur Moses Homself aan Farao bekend? Was dit omdat Hy gehoop het dat Farao se hart deur die aanskouing van die tien plae sag sal word en dat hy dalk in Hom sou glo? Nee, God het voordat Hy Moses na Farao gestuur het reeds geweet Farao sou nie glo nie.

Calvyn: Dit kan ook nie weerlê word dat God sy leer aan diegene wat Hy nie verlig wil hê nie, in raaisels gewikkel oordra nie, sodat hulle geen voordeel daaruit behaal anders as om in groter stompsinnigheid ingedryf te word nie (Inst. III.24.13, 46-49).

Sien is glo

Lees: Ex. 4:8

Vir baie is sien glo! Tog werk God nie in dieselfde raamwerk as die mens nie. Almal wat sien, glo nie. Alleen hulle wat sien en van binne verander word. Tog stel God dit aan Moses dat as Farao nie die eerste teken glo nie, hy wel teen die laaste teken sal glo (vers 8). Van watter geloof word hier gepraat? Dis slegs die besef dat Farao nie met God kan kompeteer nie.

Maar hulle glo die leuen

God gebruik die tien plae in Egipteland as bewys dat hoe meer Hy tot die wat nie uitverkies is nie roep, hoe dower word hulle vir God se roepstem. Farao word gebruik om God se almag te bewys (Ex. 14:4). Selfs die dood van die eersgeborenes bring net verdere verharding in die hart van Farao (Ex. 9:7). Daar is baie voorbeelde van mense wat God se wonderwerke sien, maar uiteindelik hulle harte vir sy Evangelie verhard. Selfs nie toe hulle die wonderwerke van God se eie Seun sien, het hulle harde harte sag geword nie. Uiteindelik het hulle Hom vir ‘n misdadiger gehou toe hulle Hom aan die kruis vasslaan. Vir die wat verlore gaan, is die Evangelie ‘n doodsreuk en vir dié wat gered word ‘n geur wat lewe bring (vgl. 2 Kor. 2:15-16).

Om oor na te dink: Lees die treffende geskiedenis van die uittog van Israel uit Egipteland (Ex. 3-14). Dink na oor hoe lankmoedig God is met wederstrewige mense.